Search
  • Izienne Grib

Sal ons bid?



Lukas 11:2


“En Hy sê vir hulle: ‘Wanneer julle bid, sê dan: …”




Vir Jesus was dit nie ‘n kwessie of ‘n mens moet bid of nie, maar eerder dat dit vanselfsprekend is dat die mens sal bid. Dit is baie duidelik in Sy keuse van woorde in hierdie teksvers. Jesus gebruik die woorde “Wanneer julle bid” en nie “As julle bid” nie.


Het jy al ooit ‘n vriendskap gehad wat vervreem het omdat julle nie met mekaar kontak gehou het nie? Of omdat jy gevoel het jy is die enigste een wat probeer om kontak te hou?

Toe jy en jou man of vrou mekaar ontmoet het, en die verhouding begin ontkiem het, hoeveel tyd het julle spandeer om met mekaar te praat? Het julle net nou en dan met mekaar gepraat as julle iets nodig het, of as iets traumaties met julle gebeur, of net af en toe as julle onthou? As ek moet raai sal ek dink dat julle in die begin nie genoeg van mekaar kon kry nie, en so gereeld as moontlik gepraat het. Ten minste een keer ‘n dag, indien nie meer nie. Daar sal seker die uitsonderings wees, maar oor die algemeen smag ‘n nuwe paartjie na mekaar se geselskap.


Dit is dalk nie hoe dit meer in jou verhouding is nie. Na 2 jaar saam, of 5 of 10 of 50 jaar. Dit is dalk nou so dat julle net met mekaar praat as daar iets nodig is. “Onthou asb. om brood saam te bring”; “Donderdag is oueraand by die skool, ek kry jou daar”; “Die kar se lisensie moet dié maand hernu word.” Wat is die verskil in kwaliteit van julle verhouding tussen nou en daardie begin jare? Wat is die verskil in opgewondenheid oor mekaar?


Net soos ons nodig het om met mekaar te kommunikeer en tyd saam te spandeer in ons huwelik, so het ons nodig om met God te kommunikeer en tyd saam met Hom te spandeer. Hoe sal ons verhouding met God oorleef sonder dit? Hoe lank sal jou vriendskappe of jou huwelik hou as jy nooit met jou vriend of lewensmaat praat nie? As alle kommunikasie net van hulle kant af kom? Ek wil my verbeel dat dit nie baie lank sal bestaan nie.

Dit is presies wat ons kan verwag as ons nie met God praat nie. Gelukkig, en genadiglik, sal God nooit van ons wegdraai of Homself van ons vervreem as ons nie met Hom praat nie. Al is Hy ook elke oomblik van elke dag besig om in jou oor te fluister en geduldig te wag dat jy Hom hoor, of raaksien in jou lewe, of met Hom praat – sal Hy nooit opgee en uit ons lewe verdwyn nie.

Die noodsaaklikheid om te bid en tyd saam met die Here te spandeer, is nie vir Sy onthalwe nie, maar vir ons s’n.

Alhoewel ek as kind en jongmens ‘n baie ryk gebedslewe gehad het, het ek êrens in my lewe gebed begin sien as ‘n ‘cliché’. Dit het begin toe ek dwaalleer begin glo het dat dit selfsugtig van my is om die Here te vra om my drome te laat waar word. Ek mag vra vir die basiese behoeftes, maar ek mag nie vra vir oorvloed nie, en ek mag definitief nie vra vir my grootste begeertes en drome nie. So ek het ophou vra, en self probeer doen. Daarna het ek gewonder…waarom is dit nodig om te bid as God dan klaar weet wat ek nodig het? Hy weet dan wat in my hart is, so Hy weet wanneer ek dankbaar is, of hartseer is en Hy weet wat my basiese behoeftes is. So ek het opgehou om met Hom daaroor te praat. En mettertyd, was daar niks meer om te sê nie, so ek het ophou bid.


Hoe dor was my hart en my lewe nie in daardie tyd nie. Dit was maklik 12-15 jaar van bitter min tot geen gesprekke met God. Ek was leeg. My lewe was leeg. Die groot probleme en krisisse in my lewe het my oorweldig. Selfs die klein alledaagse probleme het my oorweldig. Ek het die leegheid probeer vul met als waaraan ek kon dink…sukses by die werk, geld, mense, besittings. Niks was genoeg nie. Die spiraal van eensaamheid en wanhoop het my net verder laat tuimel. God het ver gevoel. God het onmoontlik gevoel. God het onwerklik gevoel. Bestaan God rêrig? Dit is waar ek gekom het, net omdat ek nie meer vir die Here wou vra nie.

En toe, gelukkig, het Hy ophou fluister. Hy het hard begin praat. Hy het begin uitroep! Hy het mense in my lewe gebring, dinge laat gebeur wat my laat besef het Hy is daar. Hy weet van my, Hy mis my, Hy wil my help en my versorg. Hy smag na my! En die gesprekke het weer begin. Gebroke, lomp, skaam en pateties. Maar dit het sterker geword, en meer geword en opgebou tot ‘n diepe vriendskap met my Skepper wat alle leegheid uitgedryf het. My hart is vol, my siel blom en my lewe is vrugbaar.


As jy leeg is, soos ek was, is dit al wat jy na jou huwelik en verhoudings toe bring…’n leë dop. As jy leeg is, en nie na God kyk om jou te vul nie, verwag jy onbewustelik van jou maat om dit te doen. Ons almal het sekere basiese behoeftes waarsonder ons net sal verlep. Ons het ‘n behoefte om aanvaar te word net soos ons is. Om onvoorwaardelik liefgehê te word. ‘n Behoefte om te weet wie ons is, ‘n identiteit te hê. ‘n Behoefte aan sekuriteit. As ons eerlik met mekaar is, kan slegs ons Skepper en Vader in hierdie behoeftes voorsien. Wanneer ons dit nie besef nie, sal ons dit nie by Hom soek nie, en ook nie kan ontvang nie. Dan begin ons hierdie dinge soek by ons maat, en dit is nie vir enige mens moontlik om hierdie dinge vir ‘n ander te gee nie.


Jou maat is dalk ‘n wonderlike Piet of Sannie, maar ‘n powere Jesus.
Ons kan nie Jesus vir mekaar wees nie.

Om ‘n gesonde huwelik of verhouding te hê, begin met ‘n gesonde jy. Jy kan slegs gesond wees in God. Dit begin by gesprek met God. Dit begin by gebed.


In die volgende paar maande gaan ons fokus op gebed in 3 fases:

  • Bid vir myself

  • Bid vir mekaar

  • Bid saam

Hierdie maand wil ek vra dat ons fokus op ons persoonlike verhouding met die Here deur te bid vir onsself. Dalk is jy ‘n ‘pro’ met gebed. Dalk doen jy dit al jare, dalk kon jy nog nooit jouself kry om te begin nie. Miskien is jy onseker of weet nie hoe nie. Miskien is jy bang, of kry jy skaam of voel simpel. Dalk bid jy nog gereeld, maar het dit ‘n gewoonte geword en is die gemeenskap met God deesdae afwesig. Of dalk het jou gebedslewe in ‘n groef verval en het dit vernuwing nodig.


Ek wil jou vra om dit ‘n kans te gee hierdie maand. Stap hierdie pad saam met my om ‘n intieme verhouding met God te bou. Praat met Hom, vra vir Hom, huil by Hom. Wees saam met Hom bly oor dinge wat gebeur. Gryp aan Hom vas wanneer jy bang is, en vra vir redding of beskerming. Gesels oor die klein goedjies…die mense op die pad wat nie weet hoe om te bestuur nie, jou baas se slegte bui, jou werknemers se luiheid, die oneindige skottelgoed, die lekker koppie koffie. Vertel Hom van jou drome. Vra vir Sy seën. Erken die dinge binne jouself waarmee jy nie gelukkig is nie, en vra vir hulp om die mens te word wat jy graag wil wees. Vra vir genesing van enige seer of hartseer wat jy saamdra. Vra om heel gemaak te word, dat jy ‘n heel mens kan toevoeg tot jou huwelik.


Al sê jy net “Hello” omdat jy nie weet wat om te sê nie. Al sit jy net en huil in Sy teenwoordigheid. Al deel jy net ‘n goeie oomblik met Hom met ‘n glimlag. Vra die Heilige Gees om jou te lei in gebed en jou te leer bid.


Jou Skepper wag vir jou. Hy roep uit na jou. Hy smag na jou.

Johannes 17:3

“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.”


Johannes 17:22

“Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees,…”

0 views
Kontak ons:

Bel ons gerus: 012 804 3577

Of stuur ons 'n epos by: silvertonkruin@absamail.co.za

Kantoorure:

Maandae - Vrydae:     09:00-13:00

Publieke vakansiedae: Gesluit

Bankbesonderhede:

N.G. Silvertonkruin

ABSA - 632005

Tjek rekening: 70580888

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle