Search
  • Izienne Grib

'n Huwelik in Rou

‘n Brief aan elkeen wat rou, dié wat al getreur het en dié wat dalk nog smart sal teëkom


Ek wil hierdie maand vir eers ‘n hou sit op ons reeks op God se ontwerp vir die huwelik, en stilstaan by ‘n saak wat ons hele gemeente laas week geruk het, naamlik die afsterwe van klein Lexi Kok.


Vir die soveelste keer in my lewe word ek daaraan herinner dat ons geliefdes – ons ouers, broers, susters, familie, vriende, mans, vrouens…en ja…ons kinders – net aan ons geleen is. Elke oomblik wat ons saam met hulle het is ‘n gawe van God.


Op 24 Mei 2004 het voormalige Springbok rugby speler, Rudi Visagie, per ongeluk sy eie dogter van 19 jaar oud dood geskiet.

Daar was in die voorafgaande maande reeds 2 voertuie uit hulle erf gesteel, en die Maggiesdal area waarin hulle woon het onlangs ‘n vlaag motordiefstalle beleef. So toe Frieda Visagie 5uur die oggend, net voor dagbreek, ‘n lawaai buite by die voertuie hoor, het sy haar man wakker gemaak en vir hom gesê dat iemand besig is om hulle dogter se kar te steel. Rudi het uit die bed opgestaan, sy pistool gevat, en een skoot afgevuur na die kar wat op daardie stadium so 20m van die huis af was. Minwetend dat dit sy eie dogter, Marlé, is wat oppad was om haar kêrel te verras met ‘n verjaarsdagpresent. Rudi was nie bewus van Marlé se planne nie, en het gedink sy lê nog en slaap in haar kamer. Dis eers toe hy by die kar kom, en sy dogter inmekaar gesak in die bestuursitplek kry, wat hy besef wat gebeur het. Die koeël het haar in die nek getref, en sy is dood verklaar met aankoms by ‘n kliniek in Nelspruit ‘n uur later.

Ek was 21 toe dit gebeur het. Nog lank voordat ek sou trou, of kinders hê. Maar ek onthou nou nog hoe my hart gebreek het vir daardie twee ouers. Ek het die toneel in my gedagtes afgespeel en my die absolute afgryse verbeel. Die oomblik wat jou kind seerkry en die absolute hoop (en geloof), dat jou kind weer sal regkom sodra julle by ‘n hospitaal kom…en dan…die son wat oor jou lewe sak wanneer die dokters hulle koppe skud en alles binne jou sterf, want jou kind se oë sal nie weer oopgaan nie. Ek het my so ingedink watter skuldgevoelens beide Rudi en Frieda moes ervaar. Rudi, wat die sneller getrek het. Frieda, wat hom wakker gemaak het met die nuus dat die kar gesteel word. Dag na dag het ek gewonder wat hulle moes deurgaan, watter gedagtes maal in hulle koppe. “As ek maar net eers ondersoek ingestel het.” “As ek maar net eers gekyk het waar is Marlé.” “As sy ons net ingelig het van haar planne.” “Gisteraand was sy nog hier.” “Gister hierdie tyd het ek haar nog teen my vasgedruk.” “Laas week hierdie tyd…” “Laas maand het ons nog…” “Sy het gister nog uit hierdie beker gedrink, hierdie klere aangehad, in hierdie stoel gesit, in haar bed geslaap.”

Alles gedagtes wat by ‘n mens spook en elke keer jou hart van voor af in duisende stukkies breek. Gedagtes wat die werklikheid so onwerklik kan laat voel. Daar is ‘n simpel stukkie in jou brein wat die heeltyd dink dat dit nie waar kan wees nie, wat dink die tyd kan terug gedraai word, wat dink hulle kan nog wakker word. En dan is daar jou sintuie wat met jou speel…’n lag, ‘n stem…wat jou vir ‘n oomblik laat dink dit is jou kind…totdat jy onthou. Ek onthou toe my pa oorlede is was ek oppad na sy huis, besig met begrafnis reëlings toe ek my selfoon hoor lui. Toe ek my foon optel het die skerm soos altyd gewys wie bel. Die foon wys vir my die persoon wat bel is “Dedda”. Vir ‘n splitsekonde glimlag ek en antwoord die foon reg om my pa te groet…maar toe onthou ek…dit is nie hy nie. Dit is my oom wat my pa se foon gevat het om almal se nommers te kry, en vir een of ander rede besluit het om my van die foon af te bel. En elke keer wat jy forseer is om te onthou, hy is dood, voel dit soos die eerste keer wat jy die nuus gehoor het, en moet jy dit van voor af laat insink om te aanvaar dat dit werklik so is, en dit gaan nie verander nie.


Ek moes al ‘n paar geliefdes afstaan aan die dood, beide my ouers ingesluit. En ek moes al langs baie vriende en familie by die graf staan, terwyl hulle totsiens moet sê. Soms was dit tragies skielik en onverwags, en ander kere iets wat al ‘n lang pad kom. En natuurlik is dit altyd hartseer en traumaties. Maar dis tye soos hierdie, met klein Lexi en Marlé Visagie wat my die hardste tref. Selfs al is dit net iets wat ek in die nuus lees, mense wat ek glad nie ken nie. Soos die Gr.4 seun want in ‘n fratsongeluk gesterf het op sy koorkamp. Die 9-jarige wat voor sy skool dood gery is deur ‘n nooddienste voertuig. Die ma wat saam met haar 1-jarige in vloedwater vasgevang is, en haar seuntjie verloor het toe die water hom uit haar arms geruk het. Daar is nie ‘n dag wat verby gaan wat ek nie aan een van hierdie gesinne dink nie. Elke keer wat ek na my eie seuntjie kyk terwyl hy slaap. Elke keer wat my dogtertjie die vertrek ophelder met die sonskyn in haar glimlag. Dan trek my hart ‘n punt van dankbaarheid, en meegevoel vir elke ouer wat nie meer sy kleintjie se lyfie kan vasdruk nie.


Want ‘n ouer wat sy kind aan die dood moet afstaan, is seker dié mees traumatiese ervaring wat ‘n mens kan deurgaan. So traumaties dat dit voel asof die mens se hart nie vir dit gebou is nie, en eenvoudig net sal meegee. Nuus van ‘n kind se dood bly by my…altyd…dit gaan nie weg nie. Hoeveel te meer vir daardie ouers?


En elke keer wonder ek: hoe bly ‘n huwelik staande te midde van so tragedie? Want dit is nie ‘n tragedie wat gebeur en dis verby nie. Nee. Dit is ‘n tragedie wat elke dag gebeur, want elke dag is nog ‘n dag wat jou kind nie daar is nie. Hoe oorleef ‘n huwelik wat deurtrek is met skuldgevoelens? Jy self wat ‘n berg van skuld saamdra, ‘n berg wat geskep word deur die onsinnige gedagtes wat oor en oor deur jou kop maal: “As ek maar net…”. Gedagtes wat niks te doen het met waarheid nie, en als te doen het met die diepste smart wat in hierdie wêreld bestaan.


Om nie te praat van die blaam wat jy heimlik op jou man of vrou plaas. Nie omdat jy hulle wíl blameer nie. Nie omdat jy dink hulle is verantwoordelik nie. Maar daardie gedagtes wat die vyand in jou plaas: “As hulle maar net versigtiger was. As hulle maar net gekyk het. As hulle maar net twee keer gedink het. As hulle maar net…” Gedagtes wat ‘n huwelik onherstelbaar kan verskeur.


Terwyl jou wêreld in duie stort, en jy voel asof die lewe gaan stilstaan het maar die wêreld gaan aan asof niks gebeur het nie. Wanneer jy elke dag van voor af voel jy verdrink in ‘n swart golf van smart wat jou so heen en weer en onderstebo gooi dat niks meer sin maak nie, is daar wel twee ankers waaraan jy verbete kan vasklou totdat die storm binne jou begin bedaar tot ‘n stille, swaar seer. Ankers waaraan jy kan vashou totdat jy weer wankelrig op jou eie twee voete kan staan en stadig een voet voor die ander sit om die lewe weer aan te pak.


Die eerste anker, en seker dié anker, is God. En die tweede anker is jou huwelik. In ‘n tyd wat jy dalk ver van God af voel, kan jy troos vind in jou maat wat saam met jou hierdie tragedie beleef. En in ‘n tyd wat jy en jou maat nie op dieselfde plek in die rou proses is nie, of nie op dieselfde manier rou nie, en ver verwyderd van mekaar voel, kan jy jouself by die Vader se voete neergooi en toelaat dat Hy jou dra in ‘n tyd wat jy droom om hierdie wêreld agter te laat sodat jy by jou kind kan wees.


Soveel paartjies moes na die afsterwe van hulle kind, ook die afsterwe van hulle huwelik deurmaak. Maar daar is ook soveel paartjies wat weet dat hulle eenheidsband soveel verdiep het met smart wat hulle saam deurgemaak het. Maar dit vat toewyding, tyd en ‘n strategie om deur die vallei van dood te kan stap en met ‘n sterker huwelik aan die ander kant uit te kom.

Waar begin mens om so iets reg te kry? Hoe kan twee harte wat treur, troos in mekaar vind?


Ek het die volgende riglyne gekry in ‘n artikel op Focus on the Family se webtuiste (https://www.focusonthefamily.ca/content/mourning-in-marriage-after-the-loss-of-a-child)


Maak die besluit.

Maak die besluit om bymekaar te bly, en sê dit vir mekaar. Laat elkeen homself van voor af aan God wy, en dan ook aan mekaar. Terwyl jou eie emosionele oorlewing, en moontlike die liefde en versorging van ander kinders in die gesin, al jou wilskrag en energie sal put, is dit noodsaaklik dat jy ‘n kognitiewe besluit sal neem om jou huwelik ‘n prioriteit te maak.

In haar boek, Surviving the Loss of a Child, skryf Elizabeth Brown: “The marriage that survives the death of a child includes two people who have calculated their survival. Reasoning, blueprinting a master plan, and analysis are part of the strategies that lead a couple through the maze of downhill emotions. In order for your marriage to survive, it has to become your number-one priority.”


Praat met mekaar oor die pad vorentoe

Sê vir mekaar dat julle weet dit gaan wel ‘n moeilike pad wees, maar julle is toegewyd om ‘n gesonde, lewenslange huwelik na te streef.


Na die begrafnis

Die dae en weke direk na die afsterwe van jou kind is gelaai met praktiese reëlings en to-do lists wat die tyd nogal kan vul. Maar wanneer die roudiens of begrafnis eers verby is, die familie wat by jou bly of elke dag met jou praat al minder word, en die mense om jou aangaan met hulle lewens, kan jy oorweldig word met die werklikheid wat skielik op ‘n dieper vlak insink, en ‘n eensaamheid wat dreig om jou in te sluk.

Hoe kan ‘n paartjie hulself voorberei vir so emosionele ‘crash’?

Ek het gelees van ‘n ma wat drie kinders aan die dood moes afstaan. Sy sê die eerste stap is om bewus te wees dat daar enigsins so ‘n ‘crash’ kan kom. Sodoende kan jy dit eerder proaktief benader, as wat dit jou onkant vang.

Karin Gregory, ‘n Focus on the Family berader, stel voor dat ouers begin deur te fokus op die basics. Slaap (wanneer jy kan), voeding (as jy dit kan afsluk) en oefening (selfs as dit onwelkom is) is nog steeds noodsaaklik vir die fisiese liggaam, en kan selfs jou liggaam help om te herstel van rou. Nadat jy na jou fisiese behoeftes omgesien het, kan jy kyk na ‘n coping strategy wat jou sal pas. Dalk is dit om tyd saam met jou man of vrou te spandeer, weg van die kinders af. Dalk het jy tyd nodig saam met ‘n vriend of vriendin. Dalk het jy op ‘n gereelde basis tyd alleen nodig, ‘n uur per week om iets net vir jouself te doen wat jou siel voed. Dalk om iets as ‘n gesin saam te doen wat ‘normaal’ is, soos ‘n uitstappie. Enige iets om jou fokus net vir ‘n oomblik te verskuif.


Laat jouself toe om die hulp van familie en vriende wat van tyd tot tyd aangebied word te aanvaar. Enige iets wat die daaglikse lading van jou kan afhaal, al is dit huis skoonmaak, kos maak, inkopies doen, kinders oppas. Gun jou geliefdes die kans om jou te help op die enigste maniere wat tot hulle beskikking is, en aanvaar hierdie klein trosies wat die Here jou rigting stuur. As niemand aanbied nie – meestal omdat hulle nie weet watter hulp jy sal waardeer nie – moenie skaam wees om te vra nie.


Struikelblokke om na op te let

Elizabeth Brown sê dat beide jy en jou eggenoot ‘n doelbewuste poging moet aanwend om jul huwelik ‘n prioriteit te maak in die weke, maande en jare wat volg na ‘n kind se dood. Sy noem ses gevare waarvoor julle op die uitkyk moet wees in hierdie tyd:

1. Doen dit op my manier

“Hoekom huil jy nie soveel soos ek nie?” OF “Hoekom kan jy nie net jouself regruk nie, daar is dinge wat gedoen moet word?”

Alle mense treur op hulle eie manier. Mans en vrouens hanteer verlies op verskillende maniere, maar so is dit ook dat elke individu sy eie manier het om met smart te deel.

‘n Man sal dalk meer skuldgevoelens dra wat betrekking het tot die beskerming van sy kind. Hy mag dalk meer terugtrek en cope deur nie te wil praat oor die dinge wat seermaak nie, of daarop fokus om besig te bly met praktiese dinge. ‘n Vrou mag dalk meer rou oor die soete oomblikke saam met haar kind wat sy nie genoeg geniet het nie, en dié waarop sy gaan uitmis in die toekoms. Sy dra dalk skuldgevoelens oor die kere wat sy nie genoeg geduld gehad het met haar kind nie, of wanneer daaglikse take haar besig gehou het en sy nie genoeg tyd kon spandeer om net by haar kind te wees nie. Sy mag dalk nodig hê om deur haar seer te praat oor herinneringe, en verwyte, en nodig hê om klein memorabilia bymekaar te maak.

Sommige mense benader die rou proses op ‘n baie “logiese” stap-vir-stap manier, en sal hulself kans gee om te rou vir ‘n kort tydjie, waarna hulle fokus om hulself “reg te ruk”, die lewe weer aan te pak en die dinge wat gedoen moet word te takel met vasberadenheid. Sulke mense mag dalk nie verstaan as hul eggenoot vir maande daarna steeds vasgevang is in ‘n donker depressie staat waar jy elke dag net deur die nodige motions gaan wat nodig is vir oorlewing. Laasgenoemde sal ook nie kan verstaan hoe hul eggenoot net kan aangaan asof niks gebeur het nie.

Hierdie is iets waarop elkeen moet fokus, en sensitief wees vir mekaar se “rou behoeftes” en genadig en geduldig wees teenoor hulself en mekaar.

2. Wees sterk

Wees sterk vir mekaar. Daar is dele met die dood van julle kind, met dinge wat gedoen moet word, wat vir jou man of vrou net absoluut té oorweldigend kan wees, maar jy is dalk beter toegerus om dit te hanteer, en andersom. Of dit nou gebeur tydens begrafnisreëlings, of die uitsorteer van jou kind se besittings, of die sorg en ondersteuning van die res van die kinders in die gesin.

Tree in en wees sterk vir mekaar wanneer jy sien jou maat is besig om te knak, en wees genadig teenoor jouself wanneer jy die een is wat ‘n spesifieke taak net nie voor kans sien nie.

Deur jou eggenoot te help in die tyd wat hulle mees kwesbaar is, sal jul liefde versterk en laat groei.

3. Verandering

Elizabeth Brown skryf: "Death brings change, and change is always tough. Values, priorities, and commitments fall under attack." Die daaglikse roetines voel vreemd en elke vakansie maak jou pynlik bewus dat iemand kort. "Like a noose, free time hangs around your neck. What hobbies you enjoyed before may now seem trivial or pointless in light of your new perspective of life and death.”

Die verlies van ‘n kind verander jou, jou huwelik en jou gesin vir altyd. Om stresvlakke en die las van verandering so min as moontlik te hou, probeer om nie in die eerste jaar na die dood groot lewensbesluite, soos bv. ‘n trek of verandering van loopbaan, te maak nie.

4. Maak “my” gelukkig

Jy kan dalk so verdwaald wees in jou eie pyn, dat jy onbewustelik verwag dat jou maat na jou behoeftes moet omsien, en dan verwaarloos voel as hy of sy dit nie doen nie.

Maak ‘n punt daarvan om op ‘n gereelde basis iets te doen wat vir jou eggenoot sal vreugde verskaf. Beplan ‘n aktiwiteit wat hy geniet, maak haar gunsteling kos of gun haar die tyd om ‘n borrelbad in vrede te geniet.

Ek het byvoorbeeld gelees van Craig en Sheri wat hul kleuter dogtertjie, Velissa, aan die dood moes afstaan. Sy was 2 jaar en 10 maande oud. Drie maande na haar dood het Sheri breekpunt bereik, en dit vir Craig vertel. Sy reaksie was om haar tyd alleen te gee – iets wat haar normaalweg vreugde bring. Hy het die volgende dag by die werk afgevat, het na die kinders gekyk en vir haar kos aangedra. Dit het haar gehelp om weer haar kragte te herwin en weer die lewe dag vir dag aan te pak.

5. Onvermoë om mekaar se behoeftes te vervul

‘n Man en ‘n vrou se fisiese en emosionele behoeftes gaan nie weg net omdat ‘n tragedie hulle getref het nie. Inteendeel, om die pyn te verwerk kan soveel moeiliker wees en langer vat as daardie behoeftes nie vervul word nie. Dit is belangrik om te weet dat ‘n man en vrou se behoeftes verskil. ‘n Man ervaar liefde wanneer sy vrou hom met respek behandel en wanneer hulle intiem verkeer. ‘n Vrou ervaar liefde wanneer haar man sy hart met haar deel, aandagtig luister en oogkontak maak wanneer sy met hom praat, haar met sagtheid en teerheid behandel, en probeer om haar hart te ken en verstaan.

Om in so ‘n moeilike tyd te fokus op hierdie behoeftes kan nie net ontmoontlik voel nie, maar selfs wreed om dit van jou te verwag. Jy is self stukkend en kan nie normaal funksioneer nie, hoe moet jy dan nog van jouself gee om na jou man of vrou om te sien?

Vir ‘n vrou is intimiteit in die slaapkamer die laaste ding waaraan sy wil dink. Die depressie wat haar smart meebring verdoof enige fisiese passie en die emosionele uitputting veroorsaak dat sy nie ‘n druppel energie oorhet nadat sy al haar wilskrag moes gebruik om net deur die daaglikse roetine te kom nie.

Aan die ander kant, terwyl ‘n man die fisiese toenadering nodig het om nader aan sy vrou te voel en te ontlaai, kan hy dit weer moeilik vind om in te skakel op sy vrou wat met hom wil kommunikeer, en nie net af te skakel deur hom besig te hou met werk of ontspanning nie. Sy gedagtes is ook konstant besig met die verwerking van sy kind se dood, en kan dit vir hom moeilik wees om emosioneel teenwoordig te wees vir sy gesin.

Moeilik soos dit is, is dit van kardinale belang dat julle wel na mekaar sal kyk en God vra om jou te help om ‘n opofferende liefde aan jou maat te openbaar, soos Christus homself vir ons opgeoffer het.

6. Oorleef op jou eie

Alhoewel elkeen op sy eie manier treur, is dit nie nodig om dit alleen te doen nie. Die vyand verheug hom daarin as hy ons geïsoleerd kan laat voel, waar God se wens vir ons liefde in gemeenskap is. Al verstaan jy en jou eggenoot dalk nie mekaar se rou proses nie, maak ‘n punt daarvan om tyd as ‘n paartjie saam te spandeer. Dit hoef nie ‘n naweek weg te wees, of elke week gaan uiteet nie, maar vind klein maniere om saam te wees. Sit die kinders ‘n bietjie vroeër in die bed en speel ‘n bordspeletjie. Deel julle harte met mekaar oor ‘n glasie wyn en sagte musiek. Maak saam kos of kuier onder die sterre.

Fokus daarop om gereeld vir jou man of vrou die ruimte te skep om op hulle manier te treur.


Algemene eienskappe van huwelike wat tragedie oorleef:

1. Gesamentlike waardes

Die verlies van ‘n kind kan ‘n paartjie in verskillende rigtings van rou stoot, wat katastrofies vir hulle huwelik kan wees. Maar as hulle saamkom in ‘n gesamentlike visie oor die lewe vorentoe, vir hul huwelik en hul gesin en die nagedagtenis van hul kind, sal dit hulle soveel nader bring en hul band versterk.

2. Deernis vir ander wat ‘n soortgelyke paadjie loop

Maak nie saak waar jy jou in jou rouproses bevind nie, jou ervaring en jou getuienis kan iemand anders die krag en die hoop gee wat hulle nodig het om deur hulle eie smart te trek. Probeer om nie in isolasie te onttrek nie, maar wanneer God ‘n geleentheid op jou pad bring om jou storie met ander te deel, gryp dit aan en deel jou pyn en leed sodat hulle versterk kan word deur die wete dat hulle nie alleen is nie, en dalk vind hulle deur jou ‘n manier om weer die lewe in die gesig te staar.

3. Dankbaarheid

Daar is seker nie een ding in hierdie wêreld wat vir ‘n mens beter perspektief gee op die lewe, as die dood van ‘n geliefde nie.

Terwyl jy treur is jou woede en smart oor die tyd wat jy nie saam met jou kind gaan hê nie dalk baie meer as die dankbaarheid wat jy het oor die tyd wat julle wel saam gehad het, en sal die bitterheid jou dalk seker nog vir ‘n lang tyd met golwe tref. Maar hoe meer jy jouself herinner aan die dinge waarvoor jy dankbaar is - die oomblikke saam met jou kind wat vir altyd in jou hart gegrafeer is, die geliefdes waarmee jy nog tyd gegun is, die asem in jou eie longe – hoe makliker sal dit word om nog dinge raak te sien om voor dankbaar te wees.

Gesels gereeld saam oor die dinge waarvoor julle dankbaar is, om mekaar te versterk en op te lig uit die donker dieptes wat dreig om julle in te sluk.

Ons dra Alexis en Lize in ons gebede op, en vra dat die Here hul huwelik sal versterk, en hulle gesin sal lei om saam te trek en hul liefde vir mekaar te verdiep. Ons bid ook vir elke ander huwelik wat tans rou, en die huwelike wat reeds afgebreek is deur tragedie wat hulle getref het. Mag Jesus Christus vir hulle vertroosting bring en genesing in hulle verhoudings.

Aan elkeen wat treur, onthou dat ‘n kerk nie ‘n gebou is waarheen ons gaan om te luister na God se Woord nie, maar ‘n kerk is ‘n gemeenskap van gelowiges wat God se liefde uitleef langs mekaar, met mekaar, deur mekaar. Reik uit na jou medegelowiges as jy eensaam is. Let op na die Heilige Gees se fluistering in jou hart dat iemand jou nodig het. Dit is nou wel so dat almal in die gemeente mekaar nie so goed ken nie, maar al wat staan tussen dit en ‘n hegte gemeenskap, is om belang te stel in – en betrokke te raak by – mekaar se lewens. Deur te deel in mekaar se lyding…en vreugde.


Openbaring 21:4

“Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”



199 views
Kontak ons:

Bel ons gerus: 012 804 3577

Of stuur ons 'n epos by: silvertonkruin@absamail.co.za

Kantoorure:

Maandae - Vrydae:     09:00-13:00

Publieke vakansiedae: Gesluit

Bankbesonderhede:

N.G. Silvertonkruin

ABSA - 632005

Tjek rekening: 70580888

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle