Search
  • Izienne Grib

Kom ons bid saam


Matteus 18:19-20


“Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”




Ons het nou al goed uitgebrei op die feit dat ‘n huwelik nie suksesvol kan wees sonder dat God ingenooi word nie.


Dit beteken dat jy as individu jou verhouding met God moet versterk en verdiep deur te bid vir jou eie genesing en lewenspad, asook vir die dinge wat jy nodig het vanaf jou maat en wat jy jou maat toewens.


Maar die een ding wat seker die grootste impak op jou huwelik sal hê is wanneer jy en jou eggenoot saam bid op ‘n gereelde basis. Daar is niks wat ‘n dieper intimiteit in jou huwelik sal skep as ‘n gesamentlike gebedslewe nie.

Hierdie maand gaan ons nie soveel tyd spandeer aan die hoekom nie, maar eerder op die hoe.


Wat is die plan?

Kies ‘n tyd wat vir albei sal werk

Besluit op ‘n tyd wat albei van julle beskikbaar het om ‘n paar minute stil te word en saam te bid.


Moenie opgee as julle ‘n dag mis nie

As ‘n dag gemis word, moenie julself so kwalik neem dat julle ophou nie. Gaan net die volgende dag aan.


Besluit wie doen wat

Wie besluit waar julle gaan bid? Wie gaan die ander een herinner dat dit tyd is om te bid? Interessant genoeg rapporteer meeste paartjies dat hulle meer suksesvol was wanneer die man die leiding geneem het in hierdie aspek.


Begin met iets waarmee julle albei gemaklik is

As net een van julle gemaklik is met hardop bid, dan moet julle begin met stil gebed, want dit is dan die vlak waarby albei van julle gemaklik sal wees.


Kom ooreen dat julle nie sal preek nie

Respekteer die gebede van die begin af as ‘n heilige spasie waarin albei van julle veilig is om jul harte voor jou maat en voor God oop te maak. Moenie die tyd misbruik deur vir jou maat te preek en dit dan kamoefleer in gebed nie.


Gebruik ‘n gebedslys

Hou ‘n gebedslys van dinge waaroor elkeen wil bid. Sit ‘n witbord op die yskas en skryf die dinge neer waaroor jy wil bid en waarvoor jy gebed nodig het.


Hou die tyd vir gebed kort

Begin eerder kort en werk dit op tot langer of meer intense gebede.


Hou jou beurt om te bid kort

Weereens, begin eerder kort totdat jul gebedslewe gevestig is.


Hou jou gebed persoonlik

Bid oor die dinge wat vir jou saak maak, jou eie behoeftes, vrese en drome.


Bid vir jou huwelik

Bid oor julle probleme en konflik. Bid vir sukses, liefde en vreugde in julle huwelik. Vra vir God om jul huwelik te seën.


Praat met mekaar

Maak seker dat julle op ander tye met mekaar praat en die dinge wat in jul lewens en in jul harte aangaan werklik met mekaar deel.


Hoe begin ons? Hier is ‘n paar voorstelle wat julle kan probeer wanneer julle begin om saam te bid:

Bid in stilte saam

Dit kan baie moeilik en ongemaklik wees om saam met jou maat te bid as julle dit nog nooit gedoen het nie. Jy mag dalk skaam voel oor hoe jy bid, of die dinge waaroor jy bid.

Om mee te begin kan julle net hande vashou, en elkeen in stilte sy eie gebed bid. Wanneer een van julle klaar is kan hy net sy maat se hand druk om aan te dui dat hy klaar is, en dan in stilte wag tot sy maat ook aandui dat sy klaar is.

Jy kan selfs vooraaf op jou eie bid vir julle saam bid om betekenisvol te wees en julle te laat groei.


Eindig stil gebed deur hardop te bid

Wanneer julle op ‘n punt kom wat julle meer gemaklik is met mekaar, of as julle van die begin af reeds gemaklik voel om dit te doen, kan julle aan die einde van julle stil gebed, net eindig met ietsie wat julle hardop bid. Dalk dankbaarheid vir mekaar of danksegging vir iets wat die Here in jul lewe gedoen het.


Skryf jou gebede

Elkeen kan vooraf ‘n gebed skryf en dit dan hardop lees wanneer julle saam bid.


Bid terwyl julle met mekaar praat

Gesels saam oor die dinge wat julle bekommer of waaroor julle drome, en te midde van die gesprek kan julle die Here betrek deur iets soos: “Here, ons weet U is by ons terwyl ons oor hierdie dinge praat en ken ons harte, help asb….”.


Bid hardop, saam, elke dag

Hierdie stap sal van nature kom wanneer julle meer gemaklik is om in mekaar se teenwoordigheid te bid. Dit mag dalk ‘n paar dae, weke of selfs jare vat om by hierdie punt te kom. Hoe dit ookal sy, moenie druk op julself of mekaar sit om hierby uit te kom nie. Daar is ook niks fout daarmee as een al gerus voel om hardop te bid en die ander wil voortgaan met stil gebed nie.


Wees kwesbaar in jou gebede

Hierdie is seker die moeilikste. Om jouself kwesbaar te maak voor jou maat deur te bid oor jou eie foute, vrese en probleme. Dit sal verseker uitloop op ‘n baie intieme gebedslewe in jul huwelik, maar is by verre nie ‘n vereiste om ‘n gebedslewe saam te hê nie. Al wat vereis word is dat julle saam bid op ‘n gereelde basis.

Dit mag dalk moeilik en ongemaklik wees, maar ek waarborg dat julle vinnig resultate sal sien en die roering in jul harte en huwelik sal ervaar. Moenie net een of twee keer probeer en dan tou opgooi nie. Probeer vir ten minste ‘n volle maand om elke dag saam te bid voordat julle besluit of dit die moeite werd is of nie.

37 views
Kontak ons:

Bel ons gerus: 012 804 3577

Of stuur ons 'n epos by: silvertonkruin@absamail.co.za

Kantoorure:

Maandae - Vrydae:     09:00-13:00

Publieke vakansiedae: Gesluit

Bankbesonderhede:

N.G. Silvertonkruin

ABSA - 632005

Tjek rekening: 70580888

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle