Search
  • Izienne Grib

God se blueprint vir jou huwelik - Deel 1

Updated: Jun 9, 2019

Die Ontwerp

ont·werpww. [het ontwerp] 1 ’n skets/tekening maak van iets wat gemaak/gebou gaan word

2 vir ’n spesifieke doel beplan/ontwikkel


s.nw. [ontwerpe; ontwerpie] 1 kuns/proses om ’n tekening van iets te maak om te wys hoe dit sal lyk wanneer dit klaar gemaak/gebou is

2 beplanning/ontwikkeling van iets vir ’n spesifieke doel

3 voorlopige skets/plan/hoofpunte

4 patroon om iets te versier


Bron: HAT Aanlyn via www.viva-afrikaans.org




Voordat ons begin om God se plan - of ontwerp - vir die huwelik te ontleed en te probeer verstaan, is dit belangrik dat ons eers seker maak ons verstaan wat ‘n ontwerp is, en wat dit beteken om te ontwerp.

Volgens die verklaring hierbo, bestaan die woord ontwerp as ‘n werkwoord, én as ‘n selfstandige naamwoord. En as ons deur die definisie lees is dit duidelik dat dit presies beskryf wat God gedoen het, asook wat Hy geskep het.

Ons Skepper het ‘n skets gemaak van die huwelik wat gevorm gaan word tussen twee mense. Hy het hierdie prentjie versigtig gevorm in sy gedagtes – met liefde en opwinding hierdie kosbare verhouding tussen twee van sy kinders geskets en met groot afwagting die leidrade vir hierdie ontwerp in sy Woord versprei vir ons om te ontdek, en as biddende volgelinge van ons Leermeester hierdie prentjie aanmekaar te sit soos ‘n legkaart. Dan in vreugde en verwondering deel te word van hierdie lewendige, dinamiese ontwerp wat ons lewe sal verryk op maniere wat ons nooit sou kon droom nie.

Hy het die huwelik vir ‘n spesifieke doel beplan/ontwikkel…hierdie doel sal ons ontdek en bestudeer in Deel 2.

God het hierdie skets van die huwelik gemaak om vir ons te wys hoe dit sal lyk wanneer dit klaar gebou is – as ons die plan sal volg. Die plan wat vir ons verduidelik hoe om ‘n huwelik te bou en aanmekaar te sit – ‘n huwelik wat die wêreld sal versier.

Maar net soos met elke ander goeie ontwerp, kan dit flop as die bouer/verbruiker nie die plan volg nie. Wanneer die persoon wat die skets bekyk besluit om sy eie kop te volg en nog steeds dieselfde resultaat verwag – of erger nog – sommer begin bou sonder om na die skets te kyk. Dalk is hy gelukkig en draai sy weergawe uit om goed genoeg te wees, al is dit dalk nie heeltemal so fantasties as die oorspronklike weergawe nie. Maar ongelukkig, in meeste gevalle, sal die eindproduk ver tekort skiet. Gevalle waar die ontwerper net kan terugsit en sy kop skud terwyl hy by homself dink: “Wat ‘n jammerte!”.

Hoeveel keer kyk ons na ons huwelik en wonder wat het gebeur? Hoe het ons hier opgeëindig? Niemand staan tog aan die begin van hul huwelik en hoop dat dit sal flop nie. Almal verwag tog dat dit ‘n voorspoedige en gelukkige huwelik sal wees, en ek glo dit is wat elke paartjie probeer regkry. Wanneer ‘n huwelik begin skeef loop…is dit die ontwerper se skuld? Is die ontwerp dalk foutief? Of was die plan dalk nooit geraadpleeg of uitgevoer soos dit bedoel was nie? Ek glo nie dat paartjies doelbewus besluit om die Meesterplan vir ‘n huwelik te ignoreer nie – maar hulle besef dalk nie hoe belangrik dit is om die ontwerp te bestudeer en te gebruik as ‘n handleiding vir die bou van hul huwelik nie.

En dit is presies hoe God se ontwerp vir die huwelik gesien moet word. ‘n Handleiding. Riglyne vir ‘n man en ‘n vrou om hul huwelik te vorm en te laat groei soos God dit in sy geestesoog gesien het. Net soos enige ander ontwerp of handleiding of riglyne, word niemand forseer om dit te volg nie. Jy sal nie met ‘n weerligstraal getref word as jy van dit afwyk nie. Maar jy kan ook nie verwag om die resultate te kry wat die Here vir jou toewens as jy kies om jou eie huweliksontwerp te volg nie.

Die volgende paar maande gaan ons die Vader se Woord bestudeer om sy huweliksontwerp te ontdek en beter te verstaan. Ons pak hierdie reis aan as biddende leerlinge, en vra die Heilige Gees om ons te lei in ons soeke na die Skepper se wil vir ons huwelik en ons lewe.



4 views
Kontak ons:

Bel ons gerus: 012 804 3577

Of stuur ons 'n epos by: silvertonkruin@absamail.co.za

Kantoorure:

Maandae - Vrydae:     09:00-13:00

Publieke vakansiedae: Gesluit

Bankbesonderhede:

N.G. Silvertonkruin

ABSA - 632005

Tjek rekening: 70580888

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle