Search
  • Izienne Grib

Bid vir Mekaar



Jakobus 5:16


“Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”





Laas maand het ons in diepte gekyk na gebed, hoe noodsaaklik en voordelig dit is. En ons het saam deur die loop van die maand daarop gefokus om ‘n dieper verhouding met God te kweek deur vir onsself te bid.


As jy nog ‘n bietjie insig op die onderwerp benodig, of as jy laas maand se inligting misgeloop het, kyk gerus na hierdie video op Youtube: Jimmy Evans - The Power of Prayer - How To Have A Daily Dynamic Prayer Life


Net deur vir jouself te bid sal reeds wondere verrig in jou lewe, die lewens van die mense met wie jy in kontak kom, maar bowenal in jou huwelik. Deur vir jouself te bid sal jou huwelik en jou eggenoot baat uit ‘n meer gesonde en heel jy.


Is dit dan nie genoeg nie? Is dit dan nodig om vir jou maat ook te bid? Sekerlik is hulle verhouding met God hulle saak. Hoe kan jou gebede in elk geval ‘n verskil maak in sy of haar lewe? Hulle weet tog beter waarvoor hulle gebed nodig het.


Ek het ‘n rukkie terug die fliek “War Room gekyk. Dit is nou nie ‘n Hollywood blockbuster nie, maar tog die kyk werd. Alhoewel dit pure fiksie is, lê daar groot waarheid in die storie. Ons is so geneig om ons vas te staar in mekaar se foute. Als wat ons eggenote verkeerd doen, die dinge wat hulle nie doen nie, hul onbevoegdhede en die leemtes in hul karakter. Dit is al te maklik om te vergeet van ons eie foute en leemtes. Soms is ons deeglik bewus van die feit dat ons ook nie perfek is nie, en soms vergeet ons dit wanneer ons so pynlik bewus is van ons eggenote se foute. Wat wel ‘n voldwonge feit is, is dat ons nie eens ons eie gebrokenheid kan genees nie. Dis nie dat ons nie probeer nie, ons almal poog tog om ons beste te doen en te wees. Ons kan net eenvoudig nie onsself regkry soos God kan nie.


Al hoe ons waarlik kan gesond word, en heel word en ons volle potensiaal bereik, is deur God te vra om ons harte te verander, en Hom dan toe te laat om dit te doen.

As ons dan nie eers onsself kan regkry of verander nie, hoe kan ons verwag om dit reg te kry met ons maats?


Ons probeer wel baie hard om mekaar te verander. Beide mans en vrouens het ‘n baie spesifieke idee wat die ideale vrou of man is, en sal graag wil sien dat hul maat so optree. En – of ons nou bewus van dit is of nie – probeer ons om hulle te vorm tot daardie prentjie wat ons in ons kop het. Veral vrouens het nogal ‘n ingebore begeerte om haar man te verander, of te ‘fix’. Maar hoe meer ons probeer, hoe minder is ons suksesvol. Inteendeel, dit het normaalweg die teenoorgestelde uitwerking. Dit kan maklik ‘n groot skeuring in die huwelik veroorsaak, en jou geliefde wegdryf eerder as om julle nader aan mekaar te bring. Op een van Jimmy Evans se ander videos gebruik hy ‘n baie goeie voorbeeld om perspektief te gee op hierdie verskynsel. Hy sê die Here het eendag vir hom gewys dat hy probeer om sy vrou ‘skoon te was’ deur ‘n ‘pressure washer’ te gebruik, maar Jesus is al sy hele lewe besig om hom skoon te was deur sagkens water met Sy hande te skep en liefderyk oor sy hart te spoel. Hy gebruik nie enige vernietigende krag om dit te doen nie, slegs geduldige, liefdevolle Mag.

Deur die werking van die Heilige Gees is ons soos klei in Jesus se hande. Hy vorm ons met soveel liefde, in Sy tyd. Net soos jy by die Here pleit vir jou eie siel…doen ook so vir jou maat. Soos Jakobus in ons teksvers noem: “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”

Lê hulle foute by God se voete neer. Als wat jou pla, als wat jou bekommer, als wat God se genesing nodig het. Hulle stres, rusteloosheid, verslawings, woede, ongeduld, afsydigheid, vrese, jaloesie, selfsugtigheid, afguns, geldgierigheid, oneerlikheid – gee dit als vir ons Vader. Hy ken jou maat se foute nog beter as jy. En Hy weet ook watter mens jou maat kan wees. Net Hy het die mag om mense se harte te verander. Al die gesoebat en smeek en baklei in die wêreld gaan nie ‘n mens verander nie. Slegs die Vader se liefde en genade kan ons mure afbreek en ons klipharte omskep in vaandels vir Jesus se Lig. Maak die weg vir die Here oop deur jouself weerloos te maak, en jou eie foute teenoor jou man of vrou te bely, en dan opreg vir jouself en vir hulle te bid.


Begeer jy dat jou man die geestelike leier in jul huis sal wees? Begeer jy dat jou vrou die huis sal vul met tere liefde en versorging? Vra vir die Here om hul harte te verander. Vra Hom om in jul huwelik te werk, in jul huis te leef, en jul harte sal vul met die Heilige Gees, om die vrugte van die Gees in mekaar te sien.


Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Goedhartigheid, Getrouheid, Nederigheid, Selfbeheersing
35 views
Kontak ons:

Bel ons gerus: 012 804 3577

Of stuur ons 'n epos by: silvertonkruin@absamail.co.za

Kantoorure:

Maandae - Vrydae:     09:00-13:00

Publieke vakansiedae: Gesluit

Bankbesonderhede:

N.G. Silvertonkruin

ABSA - 632005

Tjek rekening: 70580888

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle