Search
  • Izienne Grib

Begin by die begin...die belangrikste ding van 'n huwelik




Matteus 19:4


“Hy het hulle geantwoord: ‘Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?’ Daarby het Hy gesê: 'Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.’"


Is dit nie mooi nie? "...Wat God dan saamgevoeg het..."


Soms is 'n mens geneig om dit uit die oog te verloor wanneer jy na jou maat kyk. Mens was nie noodwendig so bewus van God se hand in jou lewe toe julle mekaar ontmoet het nie. Of daardie eerste stadium van verliefdheid. Toe jy nog jou beste voetjie voorgesit het, en jou maat probeer beïndruk het met dit wat jy hom of haar kan bied. Dalk het jy ook nie Sy plan in werking gesien toe julle verhouding meer na die ernstige kant swaai, en meer 'n langtermyn opsie word nie. Of toe julle besluit om die knoop deur te haak...en daardie dag voor die kansel, toe julle mekaar in die oë kyk, vol hoop vir die toekoms...het jy God daar by julle gevoel? Was jy bewus daarvan dat God vir daardie oomblik gewag het al vandat Hy jou in jou moeder se liggaam geskape het. Hy, wat jou by jou naam geroep het, en jou maat se naam geroep het - Hy het dit so beplan dat julle saamgevoeg sal word en 'n nuwe eenheid sal vorm.

Miskien was jy baie bewus van die Here se hand in julle samekoms. Miskien het jy gereeld met dankbaarheid vir die Here geloof omdat hy julle bymekaar gebring het. Miskien het julle Hom saam in julle huwelik ingebring. Is God nog steeds in jou huwelik? Het jy Hom ingenooi daardie eerste paar jaar toe jy en jou maat mekaar eers moes vind? Die stry en baklei oor die tandepasta proppie, die toilet sitplek, wie werk die hardste, wie is meer moeg, die TV se afstandbeheer, om nie te praat van die skoonfamilie nie!


Het jy die Here naby jou gehou toe die passie moes opsy staan vir verantwoordelikhede. Toe romanse vervang word met realiteit. Of het jy, soos so baie getroudes, vergeet om die Here saam te bring in jou huwelik?


Dit is so maklik om te vergeet dat Hy nie net 'n plek het by die kerk, by die werk en te midde al ons baie alledaagse probleme nie. Maar dat God 'n baie spesifieke rol speel in jou huwelik. Hy het dit dan gemaak! Nie net huwelike in die algemeen nie...maar spesifiek julle s'n!

Elke ouer begeer seker om die perfekte maat vir hulle kinders te kan kies. Sou dit nie wonderlik wees om 'n lysie te kan maak van al die eienskappe wat die persoon moet hê, en dat jou bestelling dan op jou drumpel opdaag, en die kersie op die koek dat jou kind jou keuse dan kies vir 'n maat nie. Ai, sal dit nou maar nie soveel slapelose nagte uit die weg ruim nie.


Maar die Vader kon presies dit doen. En Hy het. Sonder dat Hy nodig het om te bestel, kon God Sy lysie maak, en die persoon self skape. Presies soos hy hom wil hê. En Hy het hom geskape, en Hy het haar geskape, en...God het dit saamgevoeg.


As God twee mense dan saamgevoeg het in die huwelik, hoe kan die huwelik dan 'n sukses wees sonder Hom? As ons enigsins wil hê dat ons huwelik vol liefde moet wees, en vreugde, en vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing - hoe kan ons dit regkry, sonder die Gees van God? Want hierdie dinge is dan juis die vrug van die Gees. Sonder die Gees, hoe kan ons verwag om hierdie eienskappe in ons huwelik te vind?


Sonder die Gees, is ons meer geneig om ander eienskappe in ons huwelik te ervaar. Soos vyandskap, haat, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, ens. Sien ons dit nie so baie in vandag se huwelike nie? Hierdie ding is vrugte van 'n sondige natuur. Ek dink nie enige iemand trou met die hoop om laasgenoemde dinge in hul huwelik te ervaar nie. Tog is dit wat ons vandag in die wêreld sien, en is dit heel moontlik waarom die egskeiding syfers meer is as nog ooit tevore, en steeds styg. In 2015 was 45% van alle egskeidings, vanaf huwelike wat jonger as 10 jaar oud is. Is dit nie hartseer nie? Amper die helfte van huwelike sal dit nie eers 10 jaar maak nie. Om te dink hoe jonk die kinders van daardie huwelike moet wees, wat deur 'n egskeiding moet gaan.


Huwelike is vir 'n feit, een van die heilige dinge in hierdie lewe waarop die vyand gefokus het om af te breek. En ongelukkig het hy redelik goed reg gekom. Het hy dit ook begin regkry in jou huwelik?


As jy 'n huwelik wil hê wat beide jou en jou maat sal vervul, dan het julle die teenwoordigheid van God nodig om die vrugte van die Gees voort te bring. Maak nie saak waar julle huwelik vandag staan nie. Of dit nog maanskyn en rose is, of dit 'n siviele vriendskap is wat nie goed of sleg is nie, en of dit 'n volskaalse oorlog in julle huis is op 'n gereelde basis...nooi vandag weer vir God in jou huis en jou huwelik in. Al maak jy net die besluit in jou hart sal God weet, en sal Hy Homself verheug daarin om deel te wees van dit wat Hy saamgevoeg het, en sal Hy begin werk aan alles wat dalk mag krom en skeef wees, en genesing en vernuwing bring waar dit nodig is. Dit is nooit te laat nie. Geen situasie is hopeloos vir die Here nie. Geen probleem te groot vir Hom om op te los nie. Inteendeel, hoe groter die probleem, hoe meer hopeloos die situasie, hoe meer word die Here se heerlikheid uitgebeeld wanneer Hy ingryp. Moenie opgee nie, en moenie uitstel nie. Vra Hom nou.


Gebed:

Ons almagtige Vader


Here, as ek dit nog nie gedoen het nie, wil ek U graag bedank vir die maat wat U vir my gekies het. Dankie dat U ons bymekaar gebring het.


Ek weet dalk nie wat U plan met ons of ons huwelik is nie, maar ek glo U het 'n plan. Vader, ons sal nooit die heerlikheid van 'n huwelik kan ervaar, soos U dit vir ons bestem het, as U nie saam met ons stap nie.


Liewe Here, ek vra U vandag om asb. in te tree in ons huwelik. Loop saam met ons, vat ons hande, en wys ons hoe. U weet hoeveel seer daar al was en steeds is. Al die dinge waarmee ons sukkel, en al die goedjes van mekaar wat ons nie aldag verstaan nie, en dalk nie weet hoe om te aanvaar nie. Jesus, ek vra dat U genesing sal bring en verlossing van al daardie seer. Maak reguit wat krom is. Heilige Gees, lei ons elke dag om mekaar te sien deur God se oë, en leer ons hoe om mekaar lief te hê soos U dit wil.


Ek bid dit in Jesus se naam.


Amen

103 views
Kontak ons:

Bel ons gerus: 012 804 3577

Of stuur ons 'n epos by: silvertonkruin@absamail.co.za

Kantoorure:

Maandae - Vrydae:     09:00-13:00

Publieke vakansiedae: Gesluit

Bankbesonderhede:

N.G. Silvertonkruin

ABSA - 632005

Tjek rekening: 70580888

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle